Saam kan ons Together we can Hammoho re ka kgona

August 26, 2000

South Africa

By Herman Jansen

Londen. - Dis sekerlik die sensitiefste twispunt in sport: is swart sportlui van nature beter as wittes vanweë genetiese verskille? En versigtig-versigtig word die vraag weer gevra nadat die susters Venus en Serena Williams pas vanjaar Wimbledon se vroue-tennis oorheers en die gholfgenie Tiger Woods sy teenstanders verlede Sondag in die Britse Ope vernietig het.

In Januarie vanjaar het Jon Entine, ’n bekroonde TV-joernalis, ’n uiters omstrede boek oor die onderwerp die lig laat sien. Die strekking daarvan is nou amper profeties na die Williams- en Woods-triomftogte. In Taboo: Why Black Athletes Dominate Sports and Why We're Afraid to Talk About It, sê hy pront dat sporthelde met ’n wit vel ’n bedreigde spesie is. Die oorheersing van swart sportmanne en - vroue, wat reeds in soveel sportsoorte die botoon voer, gaan al hoe groter word.

Entine sê in die boek swart mense skitter veral in sportsoorte waar die ‘‘sosiale en ekonomiese hekkies die laagste is’’, soos hardloop-items, basketbal, boks en sokker. Nou is dit in die ‘‘elite-sportsoorte’’ van tennis en veral gholf waar Woods en die Williamse hakskene wys vir die res.

Selfs die oppervlakkigste uitspraak oor die verband tussen sportprestasie en ’n donker velkleur, kan jou met jou kop in ’n bynes laat beland.

‘‘Dis ’n ordentlike manier om ’n swart mens ’n nigger te noem,’’ sê Bob Herbert, ’n rubriekskrywer van die New York Times. Entine is daarvan beskuldig dat hy ’n rassis is wat swart mense as diere beskou.

Hy vra egter hoekom meeste mense saamstem dat evolusie daartoe gelei het dat Skandinawiërs meestal blond is met blou oë, maar dit as rassisties geag word wanneer gesê word afstammelinge uit Wes-Afrika het ontwikkel in die wêreld se beste naellopers en springers?

Dr. Rodger Bannister, die eerste man wat die myl in onder 4 minute afgele„ het en ’n afgetrede Oxford-hoogleraar en neuroloog, is in 1995 as politiek onsensitief uitgekryt toe hy gesê het swart naellopers en atlete het in die algemeen ‘‘sekere anatomiese voorspronge’’ bo wittes. Vyf jaar later is swart sportlui nog veel meer, en wyer, suksesvol.

Woods (24) het die Britse Ope met agt houe gewen en daarmee die jongste speler geword om die Vier Grotes in gholf te wen. Hy het die vermoë om die sportsoort jare lank te oorheers soos dalk net die Australiese krieketlegende sir Donald Bradman dit in die geskiedenis van sport kon doen.

Die lang, katagtige Venus Williams het vanjaar Lindsay Davenport in die vroue-eindstryd op Wimbledon verpletter, en ook saam met haar korter, gespierde suster Serina, die vroue-dubbelspel gewen. As afstammelinge uit Wes-Afrika pas hulle perfek in Entine se superieure spoed-en-krag-tesis oor mense uit die€ gebied. Woods, wie se ma van Thaise afkoms is, krap sy teorieë effens deurmekaar.

Hy sê: ‘‘Wittes en Asiërs loop die gevaar om bloot voetnotas langs hul donkervel-mededingers te word.’’ Tog sê hy op ’n ander plek in sy boek Oos-Asiërs soos Chinese en Japanners (en dus ook Thailanders) is die rasse-groep met die meeste ingebore soepelheid iets wat duidelik in Woods se sweepslag wilgerlat-swaai te sien is.

Vir wit supremiste moet Woods hul ergste nagmerrie wees. Die rassistiese mantra was altyd dat fisieke vermoê en breins nie saamgaan nie. Die ‘‘logika’’ lui dat aangesien swartes ‘‘natuurlik’’ meer atleties as blankes is, is hulle gevolglik minder intelligent; laer op die evolusie-leer.

Woods oorheers nou seker die tegnies-ingewikkeldste sport wat daar is. Entine glo verskillende bevolkingsgroepe het verskillende fisieke en sielkundige eienskappe wat hulle briljant Y of baie gewoon Y in ’n spesifieke sportsoort kan laat vertoon. Hy wys daarop dat swart mense net ’n agtste van die wêreld se bevolking uitmaak, maar 70% vorm van spelers in Amerika se National Football League en 85% van die professionele basketbalspelers. In Brittanje is net 2% van die bevolking swart, maar hulle maak 20% uit van die spelers in die beroepsokkerligas. Swart atlete oorheers al baie jare veral spoed-, spring- en uithou-items op die Olimpiese Spele.

Entine sê mense wat hul oorsprong na Wes-Afrika kan terugspeur, is die vinnigste en beste springers weens fisiologiese- en biomeganiese eienskappe wat hulle ’n voorsprong gee. Hulle oorheers alle naellope tot en met 400`m. Die 200 top-tye in die 100 m, almal onder 10 sekondes, is almal behaal deur atlete van WesZAfrikaanse oorsprong. Geen witZ of Asiatiese atleet kon dit nog regkry nie.

Die aërobiese voorsprong van mense wat in Oos- en Noord-Afrika hul wortels het, is weer die rede hoekom die Keniane, Marokkane en Ethiopiërs byna al die rekords hou in afstande van die 800 m tot die marathon.

Geen atleet wat van Wes-Afrika afstam, blink egter uit in die middel- en langafstande nie. Wes- en Oos-Europeërs het weer van nature die sterkste bolywe ter wêreld, sê Entine.

Atlete uit die wêrelddeel blink dus ver bogemiddeld uit in sportsoorte soos gewigoptel, stoei, hammergooi en gewigstoot.

© 2000 NEWS 24 - Kopiereg voorbehou